Kirstenbosch
Nasionale Botaniese Tuin - Kirstenbosch National Botanic Garden,
Rhodes Drive, Newlands Cape Town, Zuid-Afrika
Die tuin is 365 dae van die jaar oop – in die somer (September tot
Maart) van 08:00 tot 19:00 en in die winter (April tot Augustus) van
08:00 tot 18:00. Nader Kirstenbosch vir inligting by 021 799 8783 |
Kirstenbosch is teen
die voet van Tafelberg in Kaapstad geleë, en is een van agt
Nasionale Botaniese Tuine wat oor vyf van Suid-Afrika se ses
verskillende biome versprei is. Die tuin is 560ha groot en die grond
is in 1902 deur Cecil John Rhodes geskenk aan die nasie.
Toe Kirstenbosch, die mees bekende van die Tuine, in 1913 gestig is
om die land se unieke flora te bewaar, was dit die eerste botaniese
tuin ter wêreld met hierdie etos. Wat hierdie Tuine verder wêreldwyd
bekendmaak is dat slegs inheemse plante verplant word.
Kom woon ’n konsert by,
kom hou piekniek. Loop saam met die kenners deur die tuin en bring
jou kinders om te baljaar. Of kom kyk net hoe mooi die Kirstenbosch
Nasionale Botaniese Tuin is. Dié tuin het nie altyd gelyk soos ons
dit vandag ken nie.
Die vroeë tye
Dis aan Cecil John
Rhodes te danke dat ons vandag ’n reusetuin aan die voet van
Tafelberg het wat vanjaar sy eeufees vier. Want met dié politikus se
dood in 1902 is ’n stuk van sy grond aan die mense van Suid-Afrika
geskenk, en dis waar Kirstenbosch vandag pryk. Voor Kirstenbosch ’n
botaniese tuin was, het die grond verskeie kere van eienaar
verwissel; dit was met tye baie verwaarloos en daar het selfs al in
Rhodes se tyd ’n trop varke in die tuin se waterpoele baljaar! Die
eerste aanplantings op dié stuk grond was ’n heining van wilde
amandels en braambosse. Dit is in 1660 in opdrag van Jan van
Riebeeck gedoen om die buitegrens van die Nederlandse kolonie te
beskerm en vee binne te hou. Dele van dié heining, wat as “Van
Riebeeck se heining” bekend staan, is vandag nog in Kirstenbosch te
sien.
Met die Britse oorname van die Kaap is die suidelike deel van die
grond deur ene kolonel Christopher Bird gekoop. Hy het ’n huis hier
gebou, bome geplant en selfs ’n voëlvormige poel in die tuin laat
bou! Dié bad, wat deur ’n natuurlik fontein gevoed word, is vandag
nog in die tuin te sien en staan algemeen bekend as Lady Anne
Barnard se bad (hoewel sy nooit hier geswem het nie). ’n
Plantkundige van Cambridge-universiteit in Brittanje, professor
Henry Harold Welch Pearson, het in 1903 Suid-Afrika toe gekom. In
Februarie 1911 het hy die omgewing van Kirstenbosch met die oog op
die vestiging van ’n botaniese tuin besoek. En op 1 Julie 1913 is ’n
stuk grond met ’n jaarlikse begroting van £1 000 hiervoor bewillig.
Daar was nie genoeg geld om vir die professor ook te betaal nie en
hy het ingestem om sonder ’n salaris hier te werk en te bly. Die
terrein was oorgroei, daar was vrugteboorde waar ons vandag tuine
sien, wildevarke het baljaar en onkruid het geseëvier. Pearson het
die deel van die tuin wat nou as “die valleitjie” bekend staan,
begin ontwikkel en broodbome geplant – dié geskiedkundige bome staan
vandag nog hier. Pearson is in 1916 aan longontsteking dood en in
die tuine begrawe. ’n Keltiese kruis is ter ere van hom opgerig met
die woorde: “If ye seek his monument, look around.” En danksy hom en
verskeie ander ná hom kan ons vandag Afrika se mooiste tuin elke dag
van die jaar geniet!
Die konservatorium van
die Botaniese Vereniging
Om seker te maak
plante van oor die hele Suid-Afrika kry hul regmatige plek in
Kirstenbosch, groei plante van ander streke en klimate wat nie
natuurlik hier aard en beslis nie die Kaap se nat winters sal kan
hanteer nie, in ’n beskermde omgewing. Kom kyk hier na ’n kremetart,
pragtige en delikate bolplante en ’n verskeidenheid varings; en sien
hoe lyk ’n Welwitschia, die geharde woestynplant, van naby.
Het jy geweet?
-
Die Kirsten in die
naam Kirstenbosch verwys waarskynlik na ene J.F. Kirsten, wat
die stuk grond waar Kirstenbosch vandag is in die 1700’s bestuur
het. Die bosch is natuurlik Nederlands vir bos.
-
Cecil John Rhodes
het in 1898 ’n laning kanferbome (Cinnamomum camphora) geplant
wat vandag nog te sien is.
-
Die tuin, aan die
oostekant van Tafelberg, beslaan 36 hektaar en grens aan die
Tafelberg Nasionale Park.
-
Daar is feitlik
net inheemse plante in dié botaniese tuin waar meer as 7 000
plantspesies groei – baie daarvan skaars en bedreigde spesies.
-
In 2004 is die
Kaapse blommeryk, wat Kirstenbosch insluit, as ’n Unesco-
Wêrelderfenisgebied verklaar – die eerste botaniese tuin in die
wêreld wat dié eer te beurt val.
-
Kirstenbosch het
al 32 goue medaljes by die Chelsea-blommeskou in Londen gewen.
|



 |